Kommapunt.

‘n Mens raak genees van ‘n verkoue, of ‘n gebreekte arm.

‘n Mens raak nie genees van ‘n verslawing nie. ‘n Mens raak ook nie genees van ‘n geestesafwyking of letsels agtergelaat deur traumatiese ervarings nie.

‘n Mens baklei hierdie demoon elke dag van voor af. Soms wen jy en soms verloor jy, meestal skraap jy verby met ‘n morsige gelykop uitslag.

Deelname aan hierdie proses maak jou nie abnormaal nie en om die einde van jou vermoëns te bereik maak ook nie van jou iemand wat tou opgooi nie.

;

‘n Kommapunt word gebruik wanneer ‘n skrywer ‘n sin kon beeindig, maar kies om dit nie te doen nie. Jy is die skrywer, die sin jou bestaan (of teenswoordige probleem). Die *kommapunt is ‘n simbool vir elke gekneusde mens wat aanhou om aan te hou, deur welke metodes nodig blyk te wees.

Respek.

Iewers tussen sinisme en hoop, dit is waar die uwe funksioneer, en eendag sal ek ook verlief neem dat dit goed genoeg is.

*Lees meer oor Project Semicolon

Namibië

Reis is soos kennis. Hoe meer jy van die wêreld sien en ervaar, hoe meer besef jy hoeveel daar nog oor is om te ervaar.

Daar is niks wat ek van Namibië kan skryf, wat nie reeds deur groter penmeesters en meer gesoute reisigers beskryf is nie. Wat ek wel kan sê is Namibië is ‘n land van:

  • Stof en sand en permanent vuil voete
  • Europese toeriste wat gehuurde viertrek voertuie bestuur op padoppervlaktes waarvan hulle niks verstaan nie
  • Toyota bakkies
  • Mirror sunglasses
  • Bitter min grensdrade
  • Vriendelike mense in die suiwerste Afrikaans
  • Bokke, donkies en beeste wat instinktief weet waar hulle krale is. Dikwels opgepas deur slegs’n maer Kavango hond
  • Wildlewe
  • Drinkplekke wat met mekaar kompeteer vir die mees eksotiese naam. Toevallig is daar ook net soveel paneelkloppers/motor herstelwerk winkels as kroegies
  • Landskappe
  • Big skies
  • Permitte
  • Wrakke langs die pad
  • Onverwagte gebeurtenisse soos om vas te val in die sand, of die lekkerte van ‘n soutpad. Pap bande en sleutels/selfone wat in tente opgevou raak. Bosbrekers wat hulleself uitmekaarskud op die sinkplaatpaaie.

Ons, wat beide lei aan analysis paralysis, het Namibië aangepak sonder enige vooraf besprekings. Desnieteenstaande het ons elke aand ‘n kampplek kon kry met krag en warm lopende water vir stort en skottelgoed was. Die grondpaaie is definitief my gunsteling deel van die Land, behalwe nou natuurlik dit waarby ons nie gedurende hierdie uitstappie kon uitkom nie, soos die Caprivi (nou genoem Zambezi streek) en Kaokoland in die Kunene streek. Ek vermoed die Kaap gaan na dese heelwat minder van ons sien

Operasie Afspek IV – R.I.V

Pretoria,

Die liggaam van Afspek IV is vroegmore in sy huis in Pretoria ontdek. Sy bure, gesonde eetgewoontes en oefening, wat onraad vermoed het nadat hulle vir afspek nie sedert April gesien het nie, het die pokkel polisie gebel.

Die pokkel polisie het die liggaam op die rusbank voor die TV ontdek nadat hulle ‘n venster gebreek het om toegang tot die huis te verkry. Geen vuilspel word vermoed nie en voorlopige indikasies is dat Afspek aan ‘n stuk sjokoladekoek verstik het.

Die markte het heftig reageer op die nuus en maatskappye wat kitskos restaurante bestuur het rapporteer dat aandeelpryse met etlike persentasiepunte verswak het.

Afspek IV laat sy gasheer, Plasie, agter. Begrafnisreëlings is nog nie finaliseer nie.

Vrinne, ek maak grappies want ek weet nie regtig wat anders nie. Vir diegene wat die storie gevolg het: Soos met die vorige afspekpogings het hierdie een met groot fanfare begin maar mettertyd stoom verloor. Ek wil sover gaan as om te sê dit was my swakste poging nog.

Roes in Vrede.

Die pad na ‘n man se hart

Die slim vrou weet daardie roete loop kortpad deur sy borskas.

Die stoute vrou weet die roete begin heelwat verder Suid.

Die wyse vrou weet daardie roete loop ompad via sy maag. Die wyse vrou weet ook hoe om te reageer wanneer die horries na so lank weer gekom het.

Die wyse man weet om onmiddelik so ‘n vrou op te raap.

1

Die lyn tussen snaaks en siek

Die lyn tussen snaaks en siek is een waarop ek gereeld dans, en somtyds oorsteek. My sin vir humor, wanneer dit nie gebreek is nie, kan ten beste beskryf word as donker, sarkasties of sinisties.

So wanneer ‘n e-pos, teksboodskap of whatsapp per abuis na die verkeerde ontvanger gestuur word en ‘n verleentheid veroorsaak gaan ek daaroor lag. Wanneer die verleentheid myne is neem dit my gewoonlik ‘n bietjie langer om te lag, maar ek sal met verdrag die humor daarin sien.

Tans is daar ‘n internet ontploffing oor ‘n vrou van ‘n klein dorpie in Noord-Wes wat ‘n baie intieme foto van haarself vir haar man wou stuur, en dit toe per abuis aan ‘n Whatsapp groep waaraan sy behoort gestuur het. Ek het trouens al vanmore ten minste drie ander inskrywings op blogs raakgelees oor dieselfde onderwerp, so verskoon asseblief die duplikasie. Ek het baie vêr agter in die ry gestaan waar empatie uitgedeel is (vandaar die donker humorsin), maar ek het ‘n verskriklik oorontwikkelde sin vir regverdigheid (enigma much Plasie?), en die besigheid steek my dwars in die krop.

Waarom die boodskap dupliseer en dit aan die wêreld versprei met die persoon se naam duidelik sigbaar? Nee, ek gaan nie haar naam noem en sodoende die internet verkeer verder aanjaag nie. Is dit nie genoeg om net die verleentheid so ‘n bietjie uit te buit en net iets terug te stuur soos “Baie dankie, ek is werklik gevlei. As ek nie reeds gelukkig getroud was nie..” en dit dan daar te los nie? Waarom eerstens die persoon absoluut verneder, en dan nog verder gaan en foto’s van haar familie aflaai en hulle ook verneder?

‘n Grap is ‘n grap, maar jy maak nie ‘n sambreel in iemand se gat oop nie. Watter tipe siek mens doen so iets? Ek hoop ter harte dat indien daar iemand tussen my kennisse, of behoede my -vriende, is wat dink om ‘n mens so te verneder is snaaks, dat hulle die bietjie inbors wat daar nog oor is sal gebruik om my van hulle kontaklyste te verwyder.

Mevrou en jou gesin, my innige simpatie. Dit wat julle nou ervaar is nie regverdig of snaaks nie. Ek wens daar was iets wat ek vir julle kon doen.

 

A learning day

Gister was ‘n learning day, oftewel die polities korrekte spindoctor manier om te verwys na ‘n charlie foxtrot. Charlie Foxtrot is fonetiese (weermag) taal vir die letters C en F wat op hulle beurt die afkorting is vir ‘n clusterfuck.

Ek het opgemors, en nie net een of twee keer nie. Sommer ‘n hele drie! Dié wat my delikate geestestoestand verstaan sal weet dat ek sulke gebeurtenisse baie persoonlik opneem…wonder ek nou of dit werklik my geestestoestand is wat rebelleer, en of dit bloot net my delikate ou egotjie is?

Ewenwel, ek loop ‘n bespreking op sosiale media raak oor ‘n onderwerp wat my baie na aan die hart lê, en soos ‘n mot na ‘n vlam sirkel ek tot ek hand aan sleutelbord slaan. Dit is iets wat ek baie hard probeer om nie te doen nie, maar daar sit die ogies toe nou. My eerste fout.

Ongelukkig gebruik ek in my openings argument ‘n konsep/aanhaling van ‘n bekende persoon sonder om hom krediet te gee. Nalatig, voorbarig, dom, skelm – noem dit nou maar wat jy wil. Natuurlik sien iemand dit toe raak en kort voor lank is daar ‘n koortjie wat wolf-wolf skreeu. Ek het om verskoning gevra en reggemaak so goed ek kon, maar die skade is gedoen. Nog ‘n ou foutjie.

Laastens, gister se inskrywing. Ek kry meeste van die idees vir inskrywings van koerantberigte en ander blogs af. Gister s’n ook. Weereens het ek nagelaat om erkenning te gee aan die oorspronklike inskrywing. Weer was die hel los nadat iemand die inskrywing met die beste intensies op sosiale media versprei het. Strike three. You’re out.

Ek is nie oneerlik nie en is ook nie so losgat nalatig nie, so ek voel redelik goor oor die hele petalje. Apologie aan enige iemand wat ek te na gekom het (asof daai mense nou hier sal lees).

Lessies geleer:

  1. Mense oor die algemeen glo baie makliker dat jy oneerlik is as andersom. Ek kan hulle nie kwalik neem nie, as die skoen aan die ander voet was het ek dieselfde gedoen. Dit is en bly ‘n skreiende vingerwysing na ons sogenaamde menslikheid.
  2. Die opinie van ‘n “gewone” mens dra nie naastenby dieselfde hoeveelheid gewig as wanneer dieselfde opinie deur ‘n bekende persoon geopper word nie (Met erkenning aan Maankind)

So, gister was ‘n learning day. Dit is ‘n swaarkry wat ek nie met lekkerkry klaargekry het nie (met erkenning aan die PUK). Soos ek vir die Hasie gesê het – dik vel. Een – Twee – Drie unfuck myself.

P.S. Gister was ook die ses jaar herdenking van die dag toe die witjassies met skerp voorwerpe die ongewensde inwoners uit my kop verwyder het. Durf ek hoop dat die sponsbreintjie van gister bloot ‘n onwillekeurige reaksie op die historiese gebeurtenis was?

Die ekstra kind

Die arme bloggers wat al vir ‘n klompie jare my kopwurms lees, of wat die onaangename voorreg het om my persoonlik te ken, sal weet dat ek dink ‘n vrou is nogal een van die mees awsome goed in die heelal. Hulle sal ook weet dat ek nie altyd heeltemal weet hoe om op te tree in die gloed van soveel awsomeness nie, en ek dink ek weet gedeeltelik waarom dit so is.

Die navigasie van die struikelblokke wat die gewone daaglikse bestaan in my pad gooi verloop gewoonlik seepglad omdat ek ‘n vrou het wat my absoluut tot in die afgrond bederf. Doktersafsprake, voorskrifmedisyne, voertuie se dienste en ‘n honderd-en-een ander goedjies verskyn sommer so uit die niet. Sy het haarself die taak opgelê om seker te maak dat ek so stresvry moontlik deur die lewe gaan. Ek sê (of wys) nie genoeg dankie nie – dankie Lover!, maar ek sal ‘n leuenaar wees as ek sê dat ek nie die situasie deeglik uitbuit nie. Ek kan ook nie help om ‘n knaende gevoel te hê dat iets nie reg is hier nie.

Die algemene konsensus blyk te wees dat ‘n goeie vrou verlief neem met die feit dat sy ‘n ekstra uitgevrete kind in die huis het en dat sy emosionele behoeftes voorop gestel moet word. Groot omsigtigheid moet aan die dag gelê word ter beskerming van die waardevolste en mees delikate objek in die huishouding: Meneer se ego.

Net ingeval jy nog nie seker is nie: Ja, die manlike ego is ‘n brose useless stukkie menslikheid, maar is dit nie tyd om ‘n bruggie te bou nie?

My vraag. Eerstens, deur vol te hou dat ‘n man soos ‘n kind omgekoop en manipuleer moet word, en deur hom alewig te moet vertel hoe magtig en sterk en wonderlik hy is, word die boodskap oorgedra dat die man nie in staat is om kritiek en/of regte struikelblokke te oorkom nie. Hoe bros is manlikheid dan werklik wanneer ‘n vrou haar vlam moet afdraai sodat die man nie in ‘n slegte lig gestel word nie. Watter vrou wil werklik haar standaarde so verlaag om te probeer gelyk wees met ‘n man?

Tweedens. Hoe kan ‘n vrou na 2, 5, 10, 20 jaar enige belustige gevoelens koester vir ‘n wese wat sy basies soos ‘n kind moet behandel?

Is dit nie tyd dat die manlike spesie se draadjies geknip word sodat die patete kan loop versuip in hulle eie slapgatgeit en die wat nog ruggraat oor het kan opstaan om hulle regmatige plek as volwaardige mans in te neem nie?

PS. Geskryf na aanleiding van ‘n stuk van Laura Shortridge wat ek op news24 raakgelees het.

Ek het ‘n droom gehad

Ter agtergrond…

Ons

Die van Helsdingen poppie se inskripsie agterop die foto lees:

20 September 1991
I said: “Actually my eyes are blue”
He said: “It’s like the sky above reflected in my heart “

Dit was ons matriekafskeid en derde date. Ek het dit bes moontlik nie besef nie, maar ek was waarskynlik toe alreeds gatoorkop verlief, en 25 jaar later het daardie gevoel nog nie juis verander nie.

Nou…

Ek het onlangs ‘n droom gehad, oftewel ek het onlangs ‘n droom onthou. Die eerste een sedert die nagmerries na ek teruggekeer het van my kampuitstappie saam met SAW en seuns, dus die eerste keer wat ek ‘n droom onthou in ongeveer 20 jaar.

In my droom is ons steeds saam en ek is steeds so versot op haar soos altyd, maar my spirit guide/soulmate is ook daar, en sy is ‘n vrou. ‘n Mens sou dit nie kon aflei as jy na die langasem pogings hier kyk nie, maar ek kommunikeer selde in volsinne. Tog praat ek met hierdie persoon in my droom asof daar nie ‘n einde is nie.

Ek weet nie regtig wat die punt hiervan is nie, self of hierdie griffel ‘n punt het nie. Behalwe miskien vrees. Sê nou maar ek mis die punt oor wat my lewenstemas is? Sê nou maar die enigste mens wat ek nog ooit in my lewe liefgehad het, is nie my soulmate/soul guide nie? Sê nou maar sy is? Hoekom sal ek nou skielik begin droom?

Ek het haar al vele maal gevra, die meisie met die actually blou oë “why me?” Sy sê miskien het sy dieselfde gebreektheid in my gesien as wat sy ervaar het.

I don’t get it. Any of it. Life, love and everything in between. Dis tog veronderstel om eenvoudig te wees, dan nie?

Sonde met die honne

Iemand het onlangs in ‘n kommentaar iewers op ‘n blog waar ek rooflees ‘n redelik onsensitiewe opmerking gemaak oor kinderlose egpare en die hoeveelheid honde wat hulle aanhou, en die ergste is dat ek nie eers kan omgekrap raak daaroor nie omdat die persoon feitelik korrek is.

Ons het tans ‘n hele huis vol diere: Vier honde en my skoonma, en ek is vir hulle almal bitterlik lief, dit sluit natuurlik nou die van Helsdingen poppie ook in, maar ek hoef nie altyd baie van hulle te hou nie.

Nadat die original wosonki (worshondjie) en budoggi (bulldog) beide binne maande van mekaar verhuis het na die groot blomme patch toe, het ons besluit om ‘n wag-en-sien benadering te volg in die proses om weer troeteldiere aan te skaf. Geleentheid het binne maande kom aanklop en die Persheks (skoonma) en die van Helsdingen poppie is een Saterdagmore hier weg Brits toe om ‘n baba worshond te loop haal, en keer toe terug met twee!

Die name op hulle veearts boekies heet Diezel en Frodo, maar hulle reageer ewe goed op Frikkie en Percy, Stoppit en Nee, Fokkit en Bliksem … en Durex en Trojan. Ek noem hulle sommer kollektief die worste, want alles wat die klein kakbakkertjies doen is mos in die oortreffende trap. Alles in die erf is hulle s’n, alles op die sypaadjie buite die erf is hulle s’n, alles op die skool se sportveld oorkant die pad is ook hulle s’n. Oortreders sal verskreeu word. Wanneer hulle nie hulle goed teen oortreders beskerm nie, verwyder hulle die squeakers uit hulle speelgoed en laat hopies stuffing orals agter. Wanneer dit slaaptyd raak word daar spesiaal geboude trappies vir hulle uitgesit sodat hulle op die bed kan klim sonder om hulle ruê seer te maak. Daar wurm hulle hulself tussen die mense in wat reeds op die bed is, en slaap dan dwars om te verseker dat daar geen hanky panky aangaan nie vandaar Durex en Trojan. Worshonde is die beste geboortebeperking tans beskikbaar, maar ons het weer twee furkids in die huis, so ons kla nie te veel nie.

 

Diezel_Frodo

Diezel en Frodo in hulle natuurlike habitat

Die van Helsdingen poppie is opgeteken by ‘n groep wat vernielde Engelse bulhonde red en vir hulle huise soek. Ons het al eenmaal vantevore so hond aangeneem, en toe die geleentheid weer kom het ons dit gegryp. Die catch was dat die twee as ‘n paartjie aangeneem moes word, en so beland Sally en Paulie ook by ons. Engelse Bulhonde het redelik baie gesondheidsprobleme, en een daarvan is chroniese oorinfeksies, iets waarmee altwee die laaste klompie weke sukkel. Skommelsog Sally het sommer vroeg in die winter al agtergekom hoe om op die bed te klim, deur die worste se voorbeeld te volg. Gelukkig slaap sy by die voetenend, maar na dese met die ore wat jeuk sit sy regop en skud haar kop tot een van die mense wakker raak. As dit nie werk nie begin sy hiperventileer soos ‘n onfiks ou wat die comrades moes hardloop, en dan moet haar pens gevryf word tot sy weer aan die slaap raak.

Sally

Sally

Laastens Paulie. Daddy se caterpillar D11 bulldozer snorkmonster. Hy sukkel met die tipiese Bulhond kwaal van asemnood, so hy het ‘n lisensie om te snork. Paulie verkies gelukkig die bank as slaapplek, maar hy het onlangs die gewoonte ontwikkel om sy ma te kom “roep” as hy wil uitgaan in die nag (voorheen het hy geknyp tot opstaantyd). Sy roep is om voor haar kant van die bed te kom sit en ‘n bulldog roggel uit te pak wat die dode kan opwek. Met sy jeukore kom skuur hy nou snags sy kop reg rondom die kamer teen al die meubels. Hy hou veral van die imbuia kaste se riffeldeure. Om wakker te skrik van die derde wêreld oorlog wat hier langs jou bed uitbreek soos Paulie gwharra ghwarra hier langs die kaste afskuur, is nie aan te beveel nie. Praat van meubels, Paulie weier volstrek om om enigiets te stap – hy loop deur. Een nag so twee weke gelede skrik ons wakker van goed wat val in die huis. Ek storm met net die klere waarmee ek in die wêreld gekom het om die hoek om die boewe te gaan konfronteer, en breek amper my nek oor ‘n eetkamerstoel wat in die gang lê. Paul het onder die eetkamertafel lê en slaap, en toe hy opstaan loop hy oudergewoonte reg onderdeur die tafel. Ongelukkig vir ons loop hy toe onderdeur een van die stoele ook en die pote wig toe vas weerskante van sy lyf. Eers toe hy om die hoek gaan het die rugleuning teen die muur gehaak en die stoel van sy rug af getrek.

Paulie

Paulie

Ek het lankal reeds my PTSD so onder beheer gekry dat ek nie meer outomaties slaan as ek wakkerskrik nie, maar die eerste ding uit my mond klink gewoonlik soos “four varksteaks” Met die honde se nagtelike kaperjolle het ek dit hierdie week al verkeie kere gesê en dit veroorsaak ‘n bietjie wrywing tussen die humans. Ons is steeds lief vir die goete, maar ons hou nie juis van hulle (of van mekaar) op hierdie stadium nie.